|
Leerondersteuning
Leerders wat ekstra ondersteuning of hulp met
hul studie of sekere assesseringstake benodig, word
deur opvoeders geïdentifiseer en aangemeld
vir individuele hulp gerig op die spesifieke behoefte.
‘n Leerondersteunerskomitee wat bestaan uit
sielkundiges, terapeute en opvoeders vergader op
‘n gereelde basis om leerders wat geïdentifiseer
is by die korrekte ondersteuner te plaas. Dit kan
‘n klashulp, arbeidsterapeut, taal- en spraakterapeut
of ‘n kundige ten opsigte van alternatiewe
assessering insluit, na gelang van die leerder se
behoeftes.
Oudioleer
Sommige leerders ondervind ernstige leesprobleme
en funksioneer beter wanneer leesmateriaal in ouditiewe
formaat aangebied word. Vir hierdie leerders word
klanklêers deur middel van die rekenaar voorberei
wat dan na ‘n geskikte apparaat (bv. MP3-speler)
waarna die leerder dan kan luister, oorgelaai word.
Alle studiemateriaal en vraestelle word op hierdie
wyse voorberei, ook die finale vraestelle van Graad
12.
Transkribering
Leerders wat ernstige probleme met skryf ondervind,
word bygestaan deur ‘n spesiaal-opgeleide
transkribeerder wat antwoorde verbatim neerskryf.
Hierdie metode word gedurende die kwartaal vir alle
assesseringstake sowel as gedurende die eksamen
(insluitend die finale eksamen van Graad 12) gebruik.
Learning Access Suite
Hierdie is ‘n rekenaargebaseerde program
met, onder andere, ‘n stemherkenningskomponent
en ‘n skermleser. Leerders wat hierby sal
baatvind, word opgelei in die gebruik van die program
om hulle by te staan met lees- en skryfprobleme.
Werk kan vir die rekenaar gedikteer word, wat dit
dan uittik. Leesstof kan ingeskandeer word en dan
met behulp van die skermleser gelees word. Hierdie
sagteware is ongelukkig slegs in Engels beskikbaar
en leerders moet opgelei word om dit te gebruik.
Tog is dit ‘n lewenslange vaardigheid wat
leerders met skriftelike kommunikasieprobleme deurlopend
sal baat.
Struktuurhulp
Leerders met ATHV sukkel dikwels om hul lewensruimte
te organiseer, veral gedurende stresvolle situasies
soos eksamens. Hierdie leerders skryf in spesiale
lokale in kleiner groepe onder toesig van ‘n
opsiener wat hulle ook bystaan met die organisering
van vraag- en antwoordstelle.
|