|
Daar is drie arbeidsterapeute werksaam by Jan Krielskool
en dienste word aan leerders van graad R tot graad
12 gelewer. As lid van die multi-dissiplinêre
span, streef die arbeidsterapeut na ‘n holistiese
behandelingsbenadering.
Arbeidsterapie by Jan Krielskool is gemik op die
ontwikkeling van leerders wat te kampe het met fisiese
gestremdheid, ontwikkelings- en/of leeragterstande,
se potensiaal deur deelname aan doelgerigte, gegradeerde
aktiwiteite, aanpassing van apparaat of metodes
en die bevordering van voorloper-werksvaardighede
om leerders in staat te stel om alledaagse aktiwiteite
onafhanklik uit te voer, aan skoolaktiwiteite (akademies,
sport en kultuur) deel te neem en leerders vir die
lewe na skool voor te berei.
Graad R – 3
Die behoefte aan terapie word deur middel van relevante
assesserings bepaal en op grond daarvan word leerders
betrek by terapeutiese ingrypingsprogramme wat tydens
individuele-, kleingroep- en/of klasgroepterapiesessies
plaasvind.
Die doel van arbeidsterapie is die bevordering
van funksionering te opsigte van selfsorgaktiwiteite,
akademiese ontwikeling en aspekte van spel wat bydra
tot algemene ontwikkeling en leer.
Die volgende komponente word aangespreek in terapie:
-
Sensories-motoriese komponente
met die fokus op sensoriese integrasie, -prosessering
en -disfunksie om so alledaagse funksionering
te bevorder.
-
Posturele kontrole met
die fokus op die effek van spiertonus, krag, stabiliteit
en koördinasie vir ontwikkeling en leer.
-
Motoriese vaardighede en
veral die bevordering van grof- en fyn motoriese
vaardighede wat benodig word om alledaagse aktiwiteite
te verrig.
-
Visuele persepsie waartydens
die basiese boustene wat benodig word vir optimale
begrip en leer bevorder word.
-
Hulpmiddels vir die fasilitering
van onafhanklike en/of effektiewe funksie.
Graad 4 – 6
-
Terapeutiese dienste word aan
leerders op individuele-, groeps- en/of klasverband
gebied ten einde die leerder in staat te stel
om sy/haar visueel perseptuele en fyn motoriese
vaardighede en sensoriese integrasie maksimaal
te ontwikkel.
-
Die praktiese aspek van die Lewensoriëntering
kurrikulum word in samewerking met die opvoeders
aangebied, met klem op fisiese aktiwiteit, spanwerk,
uithouvermoë en selfregulering.
-
Rekenaargesteunde metodes word
aangewend om Engelssprekende leerders meer onafhanklik
te maak van transkribering (Learning Access Suite).
-
‘n Program word vir geselekteerde
leerders aangebied om voorloper- werksvaardighede
aan te leer.
Graad 7 - 12
As gevolg van die groot aantal leerders in hierdie
fases word arbeidsterapie-dienste slegs aan geselekteerde
leerders gebied.
Arbeidsterapie in hierdie fases word in individuele-
en/of kleingroepsverband aan leerders gebied en
het die volgende ten doel:
-
Fasilitering en ondersteuning
van die leerproses deur die ontwikkeling van dink-
en leerstrategieë om die leerder in staat
te stel om toegang tot die kurrikulum te verkry
en volgens sy/haar potesiaal te presteer.
-
Aanpassing van metodes of apparaat
om die akkommodering van fisies gestremde leerders
in akademiese en praktiese klasse te fasiliteer.
-
Ontwikkeling van voorloper werksvermoëns
en –vaardighede sodat realistiese toekomsbeplanning
en -voorbereiding vir naskoolse opleiding of werksplasing
gedoen kan word.
-
Reël en koördineer van
sitklinieke vir die monitering van optimale posisionering
van rolstoelgebrukers om sekondêre deformiteite
en/of komplikasies te voorkom.
Studenteopleiding
Derde- en vierdejaar arbeidsterapiestudente van
die Universiteit van Stellenbosch word by Jan Krielskool
en Bottelary Primêr geplaas om ‘n deel
van hulle praktiese opleiding onder toesig van die
terapeute in diens van Jan Krielskool te voltooi.
|